Sowat ‘n maand gelede is ‘n negejarige kind ernstig beseer toe ‘n familielid se pit bulterriër uitgekom en die kind se boude verskeur het.
Volgens kapt. Khanyisile Zwane (polisie mediawoordvoerder) het die kind vanaf die Vrystaat by familie in Uitbreiding 18 gekuier. Die kinders het per ongeluk die hek oopgemaak waar die hond gehou is.
Die eienaar van die hond het die dier laat uitsit en die kind se ma het besluit om nie ‘n saak te maak nie. Kapt. Zwane het gesê dat die honde-eienaar die mediese kostes, wat derduisende rande beloop, betaal het.
In dieselfde tyd wat die kind gebyt is, is die Lötter-gesin in Cowen Ntulistraat (Gholfsig) deur erge trauma toe hul spanjoel, Lulu, deur twee pit bulterriërs deur hul palissadeheining getrek is. Hul Yorkshire terriër, Frikkie, is dieselfde dag ook deur die heining gebyt en ‘n gedeelte van sy bek is afgeskeur.
Die egpaar was nie tuis nie en een van die bure, me. Anneke de Bruyn, het met die bebloede honde na die veearts gejaag. Lulu was só erg verskeur (haar gorrel was onder andere uitgeruk) dat die veearts die dier moes uitsit.
Frikkie moes narkose kry om die verskeurde vel aan die kant van sy bek af te haal en die gat in sy kop te heg.
“Die uitsit van Lulu en Frikkie se operasie het ons R4 000 uit die sak gejaag en dit het ons R5 000 gekos om Lulu te vervang om die hartseer makliker te maak vir ons drie kinders.”
Hulle het mnr. Kobus Janse van Vuuren (die eienaar van die pit bulterriërs), wat oorkant die pad bly, van die voorval in kennis gestel. Hulle het vir hom gesê sy honde kom uit, omdat die palissadehek onverklaarbaar kort-kort oopmaak.
Op 17 Oktober was die slot nie op die hek nie en het die hek wéér oopgegaan. Hierdie keer het die honde die Lötters se rifrughond deur die hek beetgekry.
In die proses om die groot hond deur die palissade te probeer trek, is stukke van die plaveisel uit die grond uit geruk en die palissades gebuig. Een van die buurmanne het met sy voertuig tussen die honde probeer injaag, maar die pit bulle wou nie laat los nie. ‘n Groot gedeelte van die hond se kopvel is oopgeskeur en van haar tande is uitgebyt.
Die Lötters se veeartsonkostes het weer bykans R4 000 beloop.
Me. Lötter sê hulle het met mnr. Janse van Vuuren probeer praat oor die aangeleentheid, maar hy het sy skouers opgetrek en gesê dat daar fout is met die hek. Hy sê egter dat hy wel aangebied het om die kostes te verhaal en dat sy honde nié aggressief is teenoor mense nie.
Me. Lötter het besluit om ‘n kriminele klagte by die polisie aanhangig te maak.
• Bekende apteker Steve Dickinson het hierdie week gesê dat sy een labrador, Lloyd, drie weke gelede deur dieselfde twee pit bulterriërs aangeval is. Verlede week is sy ses maande oue labrador, Dexter, ook gebyt.
“Ek het nie ‘n saak gemaak nie, omdat my honde ook in die straat was. Daardie twee pit bullterriers is vicious! As my hond so gelyk het, dink hoe sal ‘n kind lyk as hulle beetgekry word!”
• Die DBV is Woensdagmiddag deur die Janse van Vuuren egpaar gekontak om die diere te gaan uitsit.
Senior inspekteur Petro Oberholzer het dit duidelik gestel “dat ons nié die diere weggevat het nie! Die eienaar het hulle vrywillig oorgeteken
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking