Woensdag 21 September 2016
Honde
Honde het oefening, goeie sorg en liefde nodig. Kom ons geniet hulle en waardeer hulle, want hulle is van die mens se beste vriende.
Daar word beraam dat die markte vir items rondom troeteldiere al hoe meer groei en dat mense nou deesdae vir hul honde al hoe meer Kersfeesgeskenke en allerlei items en speelgoed koop. Dis serpies, brakkie-jakkies, reënjasse, hoedjies, truitjies, skoene en "doggles" (brille vir honde wat in sneeu-areas moet werk). Praat nie eens van die kombersies, mandjies, bakke, matrasse, bedjies en vele ander items. Vir baie mense is hul "brakkies", ras-eg of nie, te dierbaar mooi en word net soos kinders behandel.
Duitse Herdershonde (Alsatians), Bloedhonde, Doberman Pinchers, Rottweilers en andere word deesdae baie goed gebruik as polisiehonde, sekuriteits-hulp en as snuffelaars by ramp- of oorlogsgebiede. Daar word ook honderasse, wat goeie swemmers is, soos Portugese waterhonde en die Newfoundlanders, by waterreddingswerk aangewend. Die St. Bernard's is bekend vir hul opsporingswerk tydens sneeustortings. Tydens die vorige eeu is Dalmatians gebruik saam met brandbestryding. Aanvullend tot die hondewerkers-korps is daar honde soos die Border Kollie, Bernese berghond, Ou Engelse skaaphond en Belgiese skaaphond, wat baie goeie wagters of skaap- of ander veeherders uitmaak. Hierby kan ook sleehonde genoem word, soos die blou-oog Alaska Malamute, waarsonder die volke naby die Noordpool baie moeilik oor die weg sou kon kom gedurende die vorige eeue.
Daarby het talle honde, benewens die feit dat hulle waarde toevoeg tot hul eienaars se lewens, ook nog nut as deel van die sg. werkersklas of hulphonde. Dit is is veral hul goeie reuk- en sig- sintuie wat hulle so bruikbaar maak op hierdie terrein. In die werkersgroep vind mens die gidshonde wat hulp verleen aan blindes, maar ook ander hulphonde wat aan dowes of ander gestremdes hulp gee. Toetse deur navorsers het ook getoon dat pasiënte se bloeddruk byvoorbeeld daal as hulle 'n hond streel en vandaar die gebruik van terapie-honde by pasiënte.
Party honde het spitsgesigte soos die Keeshond, Samoyed, Husky en die Foksterriërs en ander het plat gesigte soos die Pug en Bulhonde. Daar is ook die wat koddig kort op die bene is, soos die Dachshund (beter bekend in die volksmond as Worshondjies), Welsh Corgi's of die Skotse Terriërs. Die Chow-Chow's het die besondere kenmerk van hulle blou tonge en daar is selfs 'n ras wat byna geen hare het nie (Chinese Crested Dog), wat al sedert die Hang-dinastie bekend is en die Chinese Sjarpei, wat lyk asof sy vel oral rimpel en om hom vou soos 'n los kombers.
Sommige soorte het gladde hare waarvan die Windhonde, Bul Terriër en Wolfhonde deel vorm. Ander soorte het krulhare soos die Poedels en Bedlington Terriërs. Nog ander het mooi lang en sagte hare soos die Maltese, Labradors en Kolliehonde.
Etikette:
Honde
Teken in op:
Plaas opmerkings (Atom)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking